Dundee, Skotland

Hierdie artikel handel oor die stad in Skotland. Vir ander gebruike, sien Dundee (dubbelsinnig).

City of Dundee
Dùn Dè

Kaart Wapen
Vlag
 Staat Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
 Land Vlag van Skotland Skotland
 Koördinate 56°27′43″N 02°58′15″W / 56.46194°N 2.97083°W / 56.46194; -2.97083
 Stigting Omstreeks 11de eeu
 Oppervlakte:  
 - Totaal 60 vk km
 Hoogte bo seevlak 18 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2016) 148 217
 - Bevolkingsdigtheid 2 471/vk km
 Tydsone GMT / UTC +0
 - Somertyd BST / UTC +1
 Amptelike webwerf www.dundeecity.gov.uk

Dundee ([dʌnˈdiː]; Skots-Gaelies: Dùn Dè [ˈt̪uːn tʲeː]), amptelik City of Dundee, is Skotland se vierde grootste stad en die 51ste mees bevolkte stedelike gebied in die Verenigde Koninkryk, met 'n bevolking wat teen die middel van 2016 op 148 270 beraam is. As Dundee City vorm die stad een van 32 raadsgebiede of council areas waarin Skotland vir administratiewe doeleindes verdeel is.

Dundee is 40 myl (64 km) noord van Edinburg in die oostelike Skotse Laagland aan die noordoewer van die Firth of Tay geleë, 'n see-inham wat die stad met die Noordsee verbind. Die stadsgebied strek vanaf die Tay tot die Dundee Law, 'n vulkaniese prop met 'n hoogte van 571 voet (174 meter) bo seevlak.

Die spoorwegbrug oor die Tay dateer van 1887. Sy voorloper het een jaar ná sy voltooiing in 1879 as gevolg van stormsterktewinde ineengestort[1]

Die oudste historiese verwysing na Dundee dateer uit die laat 12de of vroeë 13de eeu toe aan Dundee die status van royal burgh of koninklike nedersetting toegeken is. In die volgende vyf eeue is Dundee verskeie kere deur Engelse magte ingeneem en geplunder. In 1892 is stadstatus aan Dundee toegeken, en twee jaar later het dit 'n outonome county burgh geword. Vissery was van die vroegste tye af 'n belangrike bron van inkomste vir die bevolking, terwyl ook een van Skotland se grootste walvisvlote hier sy tuishawe gehad het. Dundee se tradisionele tekstielbedryf was vanaf die 19de eeu nou verweef met walvisvangs nadat ontdek is dat jutevesels, wat met walvisolie vermeng is, as versterkingsweefsel vir sakke en tapyte kon dien. Vervolgens het in Dundee een van die wêreld se vernaamste jutebedrywe ontstaan wat stedelike groei aangedryf het - en aan Dundee die bynaam Juteopolis besorg het.

Al word tekstiele - waaronder linnegoed, goiing, toue en tapyte - steeds in Dundee vervaardig, is 'n verskeidenheid ander ligte nywerhede sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog hier gevestig. So word die stad onder meer verbind met ingelegde eetware en konfyt. Vanaf die laat 20ste eeu het die belangrikheid van Dundee se nywerheidsektor geleidelik begin afneem en is steeds meer werkgeleenthede deur die groeiende dienstesektor geskep. Dundee het sodoende tot 'n belangrike spilpunt van onderwys en navorsing ontwikkel. Inligtingstegnologie (insluitende die ontwerp van rekenaarspelletjies soos Minecraft) en biotegnologie is die mees onlangse drywers van ekonomiese groei in die gebied.

Daarnaas steun Dundee se regenerasie as postindustriële stad sedert die 1990's ook op ontwerpkuns en kultuur. So is Dundee deur Unesco in 2014 as die Verenigde Koninkryk se eerste "Stad van Ontwerp" aangewys. Die ontwikkeling van Dundee se Waterfront speel 'n sentrale rol in dié kultuurgedrewe konsep. So word hier tans die eerste filiaal van die Victoria & Albert Museum buite Londen teen 'n koste van £80 miljoen opgerig. Dit sal sy deure in 2018 open.[2][3]

  1. Tom Martin's Tay Bridge Disaster Web pages. Besoek op 13 Junie 2017
  2. www.cultureforcitiesandregions.eu: Creative Industries - support for growth. Besoek op 13 Junie 2017
  3. Visit Scotland Blog, 12 Desember 2014: Dundee the UK’s first Unesco ‘City of Design’. Besoek op 13 Junie 2017

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy